Wie is Dok Hannes....
Hannes Marais: Veteraan van 35 Toetse, elf daarvan kaptein, kaptein van die onoorwonne Springbokspan wat in 1971 deur Australië getoer het, oud-Matie met 'n doktorsgraad in Landbou wat hy aan die destydse UPE verwerf het en tans afrigter by die Hoërskool Pearson in die Baai, "waar ek hulle basiese vaardighede leer. Ek glo nie aan die gerondhardloop van die nuwe afrigters nie. Basics bly basics", boorling van Somerset-Oos se omgewing waar hy nog die ou familieplaas besit en waar hy aan Gill College gematrikuleer het. Die bekende Du Plessis-broers, Carel, Willie en Michael is ook produkte van Gill.
Dok Hannes het sy eerste Toets in 1963 teen die Wallabies gespeel en uitgetree na die Toets teen die Franse in 1974.
Hy is op die betogertoer in 1971 deur Australië gedagvaar vir "aanranding" op die veld, "Maar daar het niks daarvan gekom nie". Dok Hannes sê die storie dat hy nog op "Wanted" lys 'Daar Onder' is, sommer net bog!!
Hy vertel dat die toer ten spyte van die betogers 'n baie lekker toer was. "Ons 'n klomp jong talentvolle spelers gehad wat op die toer begin blom het. Dit is natuurlik altyd lekker as 'n mens wen."
Een van Dok Hannes se mooi herinneringe van sy dae by UPE was die eerste wedstryd wat hy vir sy nuwe universitiet, waar hy as lektor aangestel is en ingeskryf het vir sy doktorsgraad, teen Rhodes gespeel het.
UPE kon op daardie stadium nog nooit 'n wedstryd teen Rhodes wen nie. Hy sê dat hy 'n Gazelle-baadjie aangehad het, wat die Rhodes-toeskouers as 'n Springbokbaadjie aangesien het en toe die haatlike slagspreuk uit die 1969/70 Engeland-betogertoer "Boks go Home" geskreeu het.
Dok Hannes sê dat dit hom so aangevuur het dat hy die Rhodesspan amper eiehandig opgeneuk het. So vurig was sy spel dat daar in die Eastern Province Hearld 'n brief verskyn het wat beswaar gemaak het oor sy robuuste spel. Springbok krieketspeler, Peter Pollock, wat by die koerant betrokke was en self die wedstryd gesien het, het verduidelik dat daar niks buite die reëls van die spel gebeur het nie.
Dok Hannes het mooi herinneringe van die ou UPE, nou NMMU, en nooi die manne wat saam met hom gespeel het en die wat onder sy afrigtershande deurgeloop het om met hom kontak te maak en saam te gaan kyk wanneer die NMMU tuis in die Varsity Cup speel.
"Dit is 'n wonderlike geleentheid wat die studente nou kry om op hierdie vlak teen mekaar te speel."
Dok Hannes se nommer is 084 621 0941.