Tjaart Marais....
Tydgenote sal Tjaart Marais onthou as die blondekop wat met sy konstante uithalerspel op losskakel ’n groot staatmaker van die Pukke en destydse Wes-Transvaal (nou die Luiperds) was.
Toe ek die Puk nader oor oud-spelers wat vir hul heldegalery kwalifiseer, het Hendrik Truter, self ’n bekende oud-provinsiale speler, in vet letters agter Tjaart se naam geskryf: “Hy is ’n moet!”
Vandag is Tjaart ver weg van die klipharde speeloppervlakte van Olënpark in Potchefstroom waar hy soveel stervertonings gelewer het.
Hy is nou ’n Kapenaar waar hy by Face Technologies, ’n sagteware-ontwikkelingsmaatskappy in Durbanville, onder meer verantwoordelik is vir bemarking en verkope.
Gelukkig is hy nog steeds by rugby betrokke en help hy nou bou aan die potensiaal van die Hoërskool D.F. Malan.
Tjaart gesels met geesdrif oor sy studentedae, want hy het in die agt jaar wat hy vir die Pukke gespeel het (1980 -1988) mooi herinnneringe opgebou.
Tjaart het ook diep spore in Wes-Transvaalse rugby getrap deur dié unie 88 keer te verteenwoordig. Hy het selfs ’n draai in Pretoria gemaak waar hy in ses wedstryde vir Noord-Transvaal (Blou Bulle) gespeel het.
As student was intervarsities altyd vir hom die lekkerste wedstryde. Vandag het daar egter van die tradisionele intervarsities bra min oorgebly en Tjaart voel dis ’n kosbare tradisie wat bedreig word.
Hy dink vir enige student is intervarsity die groot hoogtepunt van die jaar en dit sal jammer wees as dié tradisie verlore gaan.
Nie dat hy enigsins van die beduidende meerderheid verskil dat die FNB Varsitybeker-reeks, aangebied deur Steinhoff International, studente-rugby soos ’n welkome vars bries getref het nie. Inteendeeel.
“Dis ’n uitstekende en opwindende reeks,” som Tjaart dit op.
Op die vraag oor wie en wat hy die meeste van sy studentedae onthou, antwoord Tjaart:
● Puk-rugby wat die Wes Transvaalse ligas oorheers het.
● Die Puk-toere na Pietersburg, Ammasol en die Toyota-klubtoernooi in Durban.
● Robert du Preez se passes wat hy eers ná die eerste vyf meter kon sien!
● Naas Botha en De Wet Ras wat nie gelykes as skoppers gehad het nie.
● Die afrigters James Stoffberg en Manie Spamer vir hul rugbykennis en menswees.
Robert du Preez, ’n latere Springbok-skrumskakel, tel ook onder sy lysie van groot geeste.
Robert, Dolf Jonker, Martin Knoetze, Kobus Wiese en Eugene Hare “was almal skitterende spelers, op en af van die veld!”
Daar is by Tjaart geen twyfel nie dat vandag se studente sterker en groter as in sy speeldae is.
“Wat voer hulle dié spelers,” vra hy tong in die kies.
As die eerste skote in vanjaar se FNB Varsitybeker-reeks op 1 Februarie klap, sal Tjaart dalk onwillekeurig terugdink aan hoe dit in sy dae was – die dae toe hy hom as een van die Pukke se grotes gevestig het.