Alumni - Morris Gilbert

Wie is Jannie Robbertse...

Dit was ’n baie emosionale dag vir Jannie Robbertse toe FNB Tuks op 1 Maart met 17-64 teen die FNB Maties in die FNB Varsitybeker-reeks, aangebied deur Steinhoff, verloor het.

 

Nie net was dit FNB Tuks se grootste nederlaag nóg teen hul aartsvyand uit die Suide nie. Tensy die Pretorianers die halfeindronde haal en vir dit Stellenbosch toe moet reis, was dit ook die laaste keer dat Jannie in sy hoedanigheid as spanbestuurder van FNB Tuks in die Danie Craven-stadion aan diens was.

 

“Hoewel ek van die veld goeie vriende met die FNB Maties se bestuurslede en spelers geword het, was op nog altyd geswore vyande op die veld. Om só ver teen hullle te verloor, dit nog in my 150ste wedstryd as spanbestuurder van FNB Tuks, was en is steeds soos ’n galbitter pil wat teen wil en dank gesluk moet word.”

 

Jannie het besluit om ná die FNB Varsitybeker-reeks die tuig neer te lê as spanbestuurder van FNB Tuks, ’n pos wat hy reeds sedert 2005 beklee.

 

“My persoonlike omstandighede het sodanig verander dat ek dit nou moet halt roep. Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar uiteindelik die regte een,” het Jannie gesê.

 

Hy hou steeds styf duim vas dat  FNB Tuks die uitspeelronde sal haal sodat hy nie reeds op 22 Maart uittree nie. FNB Tuks speel dan in Kaapstad in sy laaste groepwedstryd teen die FNB Ikey-Tigers.

 

“Ek is reeds die afgelope 11 jaar by TuksRugby betrokke. ’n Skoolvriend van my, Franna Cilliers, het my lank terug gevra om saam met hom by Tuks se o.19A-span betrokke te raak. Dis is hoe my spanbestuurderloopbaan begin het.”

 

“Ek het al die jare vasgebyt omdat ek ’n passie vir TuksRugby het en dit baie geniet om met jong spelers te werk en op watter geringe wyse ook al ’n bydrae tot hul ontwikkeling as mense te lewer.

 

“As student het ek nooit die voorreg gehad om vir FNB Tuks te speel nie, want my rugbyspeel-dae is deur ’n besering beëindig toe ek 21 was.  Ek het toe vir FNB Tuks se o.21-span gespeel.”

 

Jannie se beste herinnneringe aan die 150 wedstryde wat hy hy die ‘pa’ van FNB Tuks was, is ironies genoeg uit FNB Varsitybeker-wedstryde wat op Stellenbosch beslis is.

 

“In 2007, toe die FNB Varsitybeker-reeks geloods is, het ons in die openingswedstryd teen die FNB Maties in Stellenbosch gespeel. Met net 16 minute speel oor, was ons nog met 31-5 agter en die skrif vir alle praktiese doeleindes aan die muur. Ons het egter skitterend teruggeveg en uiteindelik gelykop gespeel (31 elk). Die briljante drie wat (die Bulls-vleuel) Gerhard van den Heever in dié tyd gedruk het, sal my altyd bybly.”

 

“En dan sal ek ook ons oorwinning teen die FNB Maties verlede jaar in albei spanne se laaste groepwedstryd baie lank onthou. Ons moes hulle klop om tot die hallfeindronde deur te dring en het dit gedoen omdanks die feit dat net die gehardste FNB Tuks-ondersteuners ons ’n wenkans gegee het.”

 

“Oor hoe sy FNB Tuks-‘droomspan’ sedert 2005 daar sal uitsien, het Jannie gesê hy ‘kies’ dit graag met dien verstande dat hy nie die 2010-groep in aanmerking wil neem nie.

 

Sy span is:

 

15 Johan Jackson, 14 Gerhard van den Heever, 13 Lafras Uys, 12 Dylan de Fountain, 11 Pierre Spies, 10 Jacques-Louis Potgieter, 9 Piet Vivier, 8  Antonie Claassen, 7 Eben Joubert, 6 Deon Stegmann, 5 Bosman Grobler (k), Dewald Senekal, Pieter van der Merwe, Adriaan Strauss, Dawie Steyn. PLAASVERVANGERS: 16 Torsten van Jaarsveld. 17 Gert-Andries van der Merwe, 18 Wilhelm Steenkamp, 19 Okkie Kruger 20 Gerrie Odendaal, 21 Werner Pieterse, 22 Kruger van Heerden.

Posted: Monday, March 08, 2010 7:12 AM by FNB Varsity Cup