"Rapport" terug

Daarsy Flaffie, vat hom! Sa!

Spankeuses en die invloed wat dit op die uitslag van die wedstryde gehad het, was vir my die hoogtepunt van die tweede ronde van wedstryde gister.
Ná die eerste week het die meeste afrigters goed gaan navors oor hulle vertonings en aanpassings gemaak, nie net hoe om te speel nie, maar ook ten opsigte van die personeel waarmee hulle die taak in die tweede ronde moes uitvoer.

Ikeys se John Dobson het byvoorbeeld vir Tiger Bax senter toe geskuif en Therlow Pietersen op sy plek as heelagter gekies vir die wedstryd teen TUT. Die twee het feitlik man-alleen die wedstryd vir die Ikeys gewen.
Bax se hardlooplyne het die TUT totaal oorhoops gehad en selfs toe die Ikeys net ses agterspelers op die veld gehad het in die laaste minute van die wedstryd, het hy steeds nie moeite gehad om deur te kom nie.
Pietersen het self twee spoglopies gehad wat albei in drieë vir hom uitgeloop het.

Dobson is amper met sy broek op sy knieë gevang toe Pietersen weens krampe nie verder kon speel nie, minute ná die Ikey-breier al sy plaasvervangers opgestuur het. Dit het beteken dat die Kaapse span die laaste sewe minute van die wedstryd met veertien man gespeel het. Hulle het amper die prys betaal en was bitter gelukkig om met dié een weg te kom. Dit is egter sulke situasies wat afrigters skool en Dobson het beslis iets in die proses geleer.

Die Shimlas se Jaco Swanepoel het weer besluit om Lionel Cronjé heelagter toe te skuif. Dit het hom sy wedstryd teen die Puk gekos.
Cronjé het nie genoeg van die bal op die aanval gesien nie, veral nie naby die voordeellyn nie – en drieë het opgedroog.

Ek dink nie die Shimlas-losskakel, Niel Jacobs, was sleg nie, maar Cronjé het net daardie X-faktor wat ander spanne grys hare gee.
En sonder hom daar om die rigting en tempo van spel te bepaal, was die Shimlas nie so effektief soos hulle kon wees nie.
Toegegee, die Pukke was skitterend ná hulle verlede week houe moes vat teen die Tukkies, maar ek voel Shimlas het dié een verloor vir die verkeerde redes.

Dit sal Swanepoel ook loon om bietjie met sy spelers te praat oor hoekom hulle op die veld is.
Ja, die TV-uitsending gee spelers blootstelling en dit kan lei tot professionele kontrakte, maar jy moét eers jou span dien voor jy vir jouself moet naam maak.
Dit help nie jy lewer ‘n goeie indiwiduele vertoning nie, maar dit was ten koste van jou span. Ongelukkig was daar ‘n paar Shimlas wat dit uit die oog verloor het.

Die skrumkrag van Jaco Koch het die TV-kommentators gaande gehad, maar dit behoort vir niemand vreemd te wees nie. Die oud-Bok, Attie Strauss, is die Pukke se voorspeler-afrigter en jy kan verseker wees daar word meer as een skrumsessie ‘n week gehou.

Strauss is besig om SA Rugby ‘n groot guns te doen daar in Potch – hy is besig om die volgende generasie voorrymanne daar te kweek.
Hou gerus ook NMMU se Tyron Williams dop, self ‘n mannetjie wat lekker woel.
Maar dit is mos juis die lekkerte van Varsity Cup. Elke week is daar ‘n nuwe gesig om oor opgewonde te raak. En in die proses is rugby die groot wenner. Is dit nie eintlik waaroor dit gaan nie?

Posted: Wednesday, February 11, 2009 7:24 AM by FNB Varsity Cup with 1 comment(s)

Comments

# re: Daarsy Flaffie, vat hom! Sa! @Thursday, February 12, 2009 8:21 PM

JJ

Net bly dat die voories ook raakgesien word deur ons "slim" kommentators. Raak mos net gaande oor vleuels wat in elk geval moet afrond, maar die manne wat die sagmaak werk voorlangs doen word maar altyd afgeskeep.

Posted by : Barend