"Rapport" terug

JJ Harmse's latest blog post...

Dit is moeilik om te glo dit is al alweer sulke tyd, maar dit is.

Oor minder as ‘n week gooi ons weer kole in die Varsitybeker. Ek kan nie wag nie, want ek is siek en sat om een Heinekenbeker-wedstryd ná die ander op die kassie te volg met wentellings van 9-6. Of 12-9. Of 15-12, met al die punte via die skopvoete van die Ronan O’Gara’s van die wêreld.

Ja, dit is seker so dat die velde daar nat en modderig is, maar mensig, hoe opgewonde is ek nie om Maandagmiddag te sien hoe André Smith met sy dartellopies en vaardige hande die UJ agterlangs aan die loop kry nie.

Of om Marcello Sampson op volle vaart teen die Shimlas te sien nie.

Drieë en nogmaals drieë bly die bakermat van dié kompetisie, maar gelukkig het Suid-Afrikaanse rugby nog ‘n tiksel konserwatiewe streep in hom wat sal verseker dat die basiese bestandele van skrums, lynstane en losgemale nie verlore gaan nie.

Die Pukke het reeds aangedui dat hulle die ekstra stut op die plaasvervanger gaan benut om hulle stutfabriek tot sy reg te laat kom en ek kan myself net voorstel hoe Attie Strauss sy hande in afwagting afvryf.

Skrums en lynstane bly die fondamente van enige wedstrydplan, maar wat die studente weergawe anders maak is die doelgerigteid om drieë te druk.

En dit is waarom die Varsitybeker in so ‘n kort tydjie daarin kon slaag om soveel aanhang onder almal te verwerf.

Die spelers is mal oor drieë druk, veral in die TV-wedstryde en dit sal weer amusant wees om te sien watter driedrukker vanjaar die beste ‘post-drie’ feesvieringe het.

Ek wil my verstout om te sê dat dié prys eerder na die onverwagte driedrukker toe sal gaan. Dalk iemand soos BG Uys wat nie veronderstel is om te druk vir die Pukke nie.

Kom ons kyk vinnig wie vanjaar by die onderskeie spanne die uitblinkers kan wees.

Ek het reeds Smith genoem by UJ en dié losskakel bly een van die bestes op dié vlak. Ek dink egter die insluiting van Justin Wheeler kan deurslaggewend wees. Die flank is deur die Leeus vrygestel en UJ gaan die groot wenner wees. Hou hom dop.

Die Ikeys is sonder ‘n klomp van sy gereelde sterre, maar my nominasie daar is Mark Goosen, wat al verlede seisoen op haker uitgedraf het.

Sy basiese spel is goed, maar in die los kan die mannetjie woel en kry gereeld sy pak aan die gang.

Om uitblinkers by die Maties te soek is maklik, maar watter speler vanjaar daardie X-faktor gaan wees is geen geringe skatting nie, juis omdat daar soveel talent is. My vermoede is dat Johan Sadie die katalisator kan wees, hetsy op losskakel of binnesenter.

Sy voorgevoel en swenk is topklas.

Die Madibas sal vanjaar verskeie nuwelinge in die span hê, daarom glo ek ‘n hardebaard sal hulle deur die drif moet lei. En wie beter as veteran-voorryman, Tyrone Williams.

Ek is nie seker oor sy fiksheidspeil nie, maar soos ek Williams ken, sal hy die vure stook.

By die Pukke verwag ek van SP Marais om sensasioneel te wees. Die vleuel/heelagter het verlede jaar puik rugby vir Boland se o.21-span gespeel en doen hy so voort, gaan hy die Pukke se groot held word.

Tukkies sal weer agterlangs baie spanne gryshare gee, want in Shaun Davids en veral Franco Booysen is daar uitstekende spelskeppers. Ek verwag van Booysen om vanjaar hulle groot ster te wees.

Adillo Coutriers sal weer die kitaar by TUT slaan. Hy het ‘n reuse skopvoet en hetsy op losskakel of heelagter, sal hy altyd sorg dat sy span in spel bly.

En laaste maar nie die minste nie, die Shimlas. Kyk hier nie verder nie as losskakel Franna du Toit nie. Klas man, klas.

 

 

J.J. Harmse

Sports Writer

Posted: Tuesday, January 26, 2010 8:34 AM by FNB Varsity Cup

Filed under: ,