"Rapport" terug

New JJ Blog post...

Die Maties lyk onkeerbaar op pad na sy derde titel en die manier waarop die Kovsies getroef is, laat my wonder of die span van Stellenbosch hoegenaamd geklop kan word.

Ek weet die Vodacombeker-kompetisie begin hierdie week en sal sekerlik ‘n invloed hê op die samestelling van die spanne, maar selfs dit gaan nie juis die Maties verswak nie. Cameron Peverett kom dan nou eers terug!

Kyk, dit is seker nie die gesondste ding vir ‘n kompetisie soos die as dieselfde span elke keer wen nie. Net so, soos ek in ’n vorige blog geskryf het, dat reuse-tellings aan die orde van die dag is nie. Tog is ek aan die een kant bly dat Maties so sterk staan op die oomblik.

 

Dit is duidelik dat dinge reg gedoen word daar. Kyk, daar was ‘n maer jaar of twee en die kompetisie is dalk by tye effens gebuig om by die Maties se provinsiale klubverpligtinge aan te pas, maar die speelveld is tans gelyk vir almal.

En die wyse waarop die Maties voortstoom, is waarskynlik ‘n les te leer  vir die ander universiteite.

Dok Craven het mos gesê as Maties sterk is, dan is WP sterk en as dit die geval is, is die Springbokke sterk. So miskien is ‘n derde oorwinning vir die Maroentruie nie so sleg nie, veral omdat die Wêreldbeker om die draai is!

 

Die uitslae gisteraand het behoorlik die kat in die duiwehok losgelaat. En die kat is honger en die duiwe mak!

Ek wil nie eens dink hoe gons dit in Potchefstroom nie! Daar word die vertonings van die Puk BAIE erger opgeneem as selfs die van die Luiperds, Bulle of Springbokke.

En ek wil nie Rudy Joubert wees as die Puk NIE die semi’s maak nie.

Hulle het wel nog twee ‘makliker’ wedstryde teen NMMU en TUT se Vikings, maar moet dan teen die Maties speel in ‘n wedstryd wat baie maklik hulle sukses in die kompetisie kan bepaal.

So van TUT gepraat, welgedaan. Hopelik is die lesse nou geleer dat solank julle 15 teen 15 is, het julle ‘n kans.

En uiteindelik het UJ een wedstryd volgens potensiaal gespeel!

Hopelik sal beide dié spanne nou met meer selfvertroue speel in die res van die kompetisie.

Reg, my toekenning van die week gaan aan Tukkies se Dirk Dippenaar. Hy het twee puik drieë gedruk op regtervleuel, maar benewens die feit dat hy hard en reguit hardloop as hy die bal kry, was dit opvallend dat hy nie skroom om werk te soek nie.

Net jammer van sy spanmaats speel in sulke rukke en stote.

 

 

J.J. Harmse

Sports Writer

Posted: Thursday, February 25, 2010 11:04 AM by FNB Varsity Cup