"Rapport" terug

JJ's...

Het die Maties nog ‘n swak wedstryd in hulle of was die een teen Ikeys die vrotste wat hulle vanjaar gaan speel?

Dit kan dalk na ‘n onsinnige vraag klink, want die Maties was weereens uitstekend en het welverdiend gewen.

Die punt wat ek wil maak met daardie vraag is dat elke span ‘n afdag het.

Net soos Tiger Woods nie elke toernooi kan wen waarin hy speel nie – al is hy verreweg die beste speler in die wêreld – net so kan geen span elke wedstryd wen waarin hy speel nie, al is hy skynbaar strate beter as die res van sy teenstanders.

Die Maties het ‘n bietjie teen die Shimlas gesukkel, maar dit kan ook aan die besoekers se vertoning én die sterk wind daardie dag toegeskryf word.

Wanneer gaan hy sy ‘afdag’ kry? In die semifinaal? Of in die finaal?

Wel, as ‘n oud-Matie sal ek verkies dat dit eerder komende Maandagaand in Potchefstroom sal wees.

Dan weet ek ten minste wat om te verwag vir die twee belangrike weke daarna!

Ek dink enige Puk-ondersteuner sal ook verkies dat die Maties nie op al sy kanonne vuur nie, want as die Pukke daardie een deurtrek kan hulle die ander tuis-semi aanbied.

Komende Maandag se top vier – of dan minstens die tweede tot vierde plekke – sal eers met die heel laaste wedstryd van die gewone rondtes bepaal word.

Dit is presies wat jy van ‘n toernooi van dié aard verwag.

Ja, die NMMU en TUT is ver agter, maar al klaar beter as verlede jaar. Hulle speel toevallig vir die houtlepel, so ook in dié wedstryd is daar baie op die spel.

Maar hulle en Tuks se wedlope is geloop en vir die res van die spanne gaan dit eintlik kwarteindstryde wees, al het die kompetisie nie so iets nie.

Tuks kan die Ikeys duur laat betaal in Kaapstad, want verloor die Kapenaars, kan hulle vierde eindig. En dan moet hulle weer Stellenbosch toe vir die halfeind.

Shimlas en UJ speel letterlik vir twee pryse. Die een is ‘n moontlike tuissemi (as Ikeys en Pukke verloor) en die ander is ‘n beste plek op die punteleer nog.

Die wedstryd gaan ‘n riller wees.

Reg, ek gaan my kop uitsteek en ‘n voorspelling maak vir Maandag se wedstryde.

Ek reken Ikeys gaan vir Tuks klop en eindig op 25 punte. Dan behoort Shimlas vir UJ in Bloemfontein te troef, so kan klaarmaak op 22 punte.

Die Pukke gaan net-net vasval teen Maties, maar ‘n bonuspunt kry omdat hulle met minder as sewe punte verloor het, wat hulle 22 punte gaan gee.

Maar hulle gaan steeds onder Shimlas eindig weens die punteverskil.

So die halfeinde gaan wees teen Maties en Pukke en Ikeys en Shimlas. Of hoe?

J.J. Harmse

Sports Writer

Posted: Wednesday, March 10, 2010 7:37 AM by FNB Varsity Cup