'Ons het nog niks bereik nie'

FNB UP-Tuks, voorlopers op die puntelys van die reeks om die FNB Varsitybeker aangebied deur Steinhoff International, wil hul wedstryd teen die aartsvyand uit die Suide, die FNB Maties, beredeneerd en nie met oorlaaide emosies aanpak nie.

Dié wedstryd tussen die enigste twee onoorwonne spanne in die 2012-reeks vind Maandagaand in Stellenbosch plaas.

"Die grootste fout wat ons kan maak, is om ná ons goeie sege oor die Pukke (40-20) op ons louere te rus," het UP-Tuks se hoofafrigter, Nollis Marais, opgemerk.

"Ons het nog niks bereik nie, al is ons die voorlopers op die puntelys en al het ons die geskiedenisboeke herskrywe deur die eerste keer in vyf jaar van deelname drie agtereenvolgende oorwinnings te behaal.

"Jy wen immers nie trofeë deur in die verlede te leef nie, maar eerder deur noukeurig voor te berei en te beplan vir die nóg groter uitdagings wat wag."

Marais het bygevoeg: "Daar kan geen twyfel wees dat die oorwinning teen die FNB NWU-Pukke baie goed vir ons momentum en selfvetroue was nie. Wen is 'n wonderkuur, maar jy verdien dit net deur volgehoue harde werk.

"Ons sal eerste wees om toe te gee dat ons baie beter kan speel as in enige van ons eerste drie wedstryde. Die grootste uitdaging is om langer fokus te behou en die basiese foute wat ons weer teen die Pukke van seker nóg drie drieë beroof het, uit te skakel."

Volgens Marais lê die "ware karaktertoets" juis nog voor.

"Maties is 'n perd van 'n ander kleur en sal ons grootste vuurdoop van die seisoen wees," het hy gesê.

"Hulle is nie net die enigste ander onoorwonne span nie in die 2012-reeks nie, maar sal boonop wil wraak neem vir die nederlaag wat hulle verlede jaar teen ons in Pretoria gely het. Hulle moet egter eers verby ons kom om onoorwonne te bly.

"Dit kan 'n lekker tweestryd oplewer."

Deur Morris Gilbert

Add a comment