Varsitybeker is rugby se goue gans
Dit was presies wat ek wou sien in die eerste week van Varsitybekerrugby!. Ivoortorings wat geskud word, reputasies wat geknou word, opskuddings wat veroorsaak is. En dan ook, spelers wat nou reeds hand opsteek.

Dit was alles deel van week een se bepalings. Ikeys is behoorlik geskud deur die Shimlas wat vir die eerste keer op Groote Schuur kon wen, UJ moet ernstig na hulself in die spieël kyk en Pukke sal moet leer om 80 minute rugby te speel.
En ja, Maties is al klaar witwarm en TUT op pad Skild toe.
Dit is dalk voortydige waarnemings, want die kompetisie kry oor 'n maand weer 'n ander lewe as die spanne die byt van die Vodacombeker-kompetisie begin voel.
Ek wil sommer vroeg al my ongelukkigheid hieroor uitspreek. Dit is sekerlik elke span se reg om te kies wie hy wil en ek het nie eintlik verweer teen Tukkies, Maties, Pukke en Shimlas wat vir die eerste maand die bloed uit hul Vodacombekerreeks-spelers tap nie, maar iewers is iets nie lekker nie.
Oor watter van die Vodacom of Varsitybeker-kompetisies nou eintlik die meeste aandag trek is nie eens oop vir debat nie, want laasgenoemde skop gat.
Hoekom moet ons dus nou 'n 'verwaterde' Varsitybeker hê omdat die Vodacombeker afskop?
Ek weet laasgenoemde is SA Rugby se voorkeurkompetisie en ek wil vir geen oomblik die meriete daarvan in twyfel trek nie, maar daar kan beslis 'n ander plan gemaak word.
Die Vodacombeker kan op 'n ander tyd of in 'n ander formaat gehou word, maar iets moet gedoen word. Dit kan nie die Varsitybeker "kaap" nie en klaar.
Dit is nie boonop nie net studenterugby wat daaronder ly nie, want die sogenaamde oop klubs het ook hul eie toernooie. Feit is, sonder provinsiale spelers, al is dit net een of twee per span, verloor 'n toernooi sy glans. En die gehalte van rugby neem af en uiteindelik is almal verloorders.
Vir al sy redes waarom Varsitybeker so gewild is moet die gehalte van rugby baie hoog op daardie ranglys staan. En die gehalte is so hoog, want die beste spelers neem daaraan deel.
Ek het anderdag by TuksRugby se kantoor ingedraf om my akkreditasie vir eergister se wedstryd teen UJ op te tel. Daar het hul rugby-organiseerder en dierbare rugbyvriend, Gert van Coller, vir my Tuks se spanlys gegee, heel in sy skik dat Ockie Kruger uiteindelik vir hulle gaan speel.
'n Vinnige kykie na Tuks se span het my aan die goeie ou dae van klubrugby laat dink - toe die Weermag- en Polisiespanne vrot van provinsiale spelers en Springbokke was en die universiteite danksy 'verslapte?' akademiese reëls self vol spelers was wat vir hul provinsie en hul land uitgedraf het.
Desondanks het daardie spanne gereeld teen 'oop' klubs verloor.
Spanne soos Old Grey's, Ammosal, Villagers, Adelaar, Diggers en Harlequins het gereeld daardie 'superspanne' geklop.
Varsitybeker is 'n goue gans vir ons rugby, veral wat die ontwikkeling en blootstelling van talent aanbetref. Almal van ons wat met goeie bedoelings in rugby betrokke is moet met 'n ander plan vorendag kom om seker te maak ons kry 'n plekkie in die son vir al ons kompetisies.
Ja, ook die Vodacombeker, want daar was 'n tyd toe daar prag en praal aan daardie een ook was.
Wat dink julle?
Deur JJ Harmse, Rapport
| Add a comment |









