Skokke en nog meer skokke

Week Een van Varsitybeker was amper soos die 'vuishou' wat Levi Odendaal daar op Groote Schuur soos 'n os laat neerslaan het. Dit was nie die ware Jakob nie, want daarvoor was daar nog te veel haakplekke en gebrek aan momentum by al die spanne.

Nie in Week Twee nie. Wat ons afgelope Maandag gesien het, was presies wat die kompetisie vooraf beloof het, wedstryde wat in die doodsnikke gewen (en verloor) gaan word

Die gehalte van die rugby was nog steeds nie wat dit veronderstel is om te wees nie, maar die mededingendheid wel.

Vra vir Pukke en vra vir Shimlas hoe hulle dit reggekry het om op hul tuisveld (nogal) 'n wenvoorsprong prys te gee.

Ek wonder of Puk nie dalk dié een in hulle koppe verloor het nie. Ons praat dikwels van kampioenspanne wat net instinktief weet hulle gaan wen, al is hulle agter op die telbord, maar ek het die idee gekry die Pukke het nie in hulself geglo nie - en Maties het.

Die feit dat Juan Pretorius die bal verloor het op pad doellyn toe en sonder 'n verdediger in sig, sal natuurlik ook lank by die Puk-agtsteman spook.

Dit raak al amper tyd vir my gunsteling tydverdryf op dié forum, om spanne te kies, maar ek reken mens kan eers na sowat 'n maand behoorlik peil trek op so iets.

Ek wil wel nou al Henri Scharneck van Pukke se naam noem. Die loskopstut wat eerder lyk of hy by rock-konserte as gyms rondhang, gaan 'n groot karakter word in die reeks - en dit is maar een van die dinge wat die organiseerders elke jaar voor hoop.

Tuks se Sous Mostert is klaar besig om daardie status in Pretoria te verwerf en ons sal beslis oë oophou vir nog 'legends”.

Vir NMMU was dit 'n spesiale dag. Om Shimlas in Bloem te gaan klop en dan nog ná hulle teen die planke was, is dalk net wat dié span nodig gehad het om werklik kompeterend te raak.

Volgens verslae uit ('n verslae) Bloemfontein het die Shimlas behoorlik uitmekaar gespat in daardie laaste minute en dit kan beslis nie goed vir hulle veldtog wees nie.

Ek dink die sege - en TUT se groot nederlaag teen Tuks - het die vermoede bevestig dat die span van Pretoria Wes op pad uit die Beker-kompetisie is.

Dit was in die verlede tradisioneel die wenner van die TUT/NMMU-wedstryd wat die houtlepel vrygespring het, maar met hul sege oor Shimlas het die manne van die Baai dalk net nou al reeds daardie valbyl ontglip.

Dit gaan natuurlik wondere verrig vir hul gemoedstoestand en hulle kan nou vir 'n slag meer positief speel. Dit hoef nie net te gaan om nié te verloor nie, maar vir 'n slag kan NMMU speel om te wen. En dit maak 'n groot verskil in enige span se aanslag.

Die Jong Turke is nou volstoom aan die gang en hier is TUT in tamatiestraat.

Dié klub het die hand wat die Blou Bulle hulle aangebied het vir hulp van die hand gewys en die resultaat is daar vir almal om te sien.

Geen simpatie vir julle nie. Net jammer die spelers gaan lei onder kortsigtige besluite deur administrateurs.

Deur JJ Harmse, Rapport

Add a comment