Harmse: 'Pienk is die nuwe rooi'

Ek sal graag die amptelike statistieke wil sien, maar ek is oortuig daarvan dat die pienk bal waarmee gespeel word tot meer hanteerfoute lei.

Ek kan nie onthou, in enige van die wedstyde wat ek tot dusver gekyk het, waar daar nié 'n hanteerfout was sodra die pienk bal in spel gebring word nie.

Daar is natuurlik ook hanteerfoute as met die normale wit bal gespeel word, maar dit voel vir my of die pienk bal elke keer sodra dit gebruik word, op die grond beland - iets wat natuurlik elke afrigter rooi laat sien!

Voel julle ook die pienk bal veroorsaak aanslane?

'n Ander tendens wat natuurlik tot dusver pal kop uitsteek is die gebruik van aanvallende lynstane ná strafdoele.

Die hele idee met die vermindering van die waarde van 'n strafskop was om aanvallende rugby aan te wakker. Dit is sekerlik die geval, maar dit is opvallend dat die aanvallende lynstaan en gepaardgaande rolmaal skielik weer mode geword het.

Dit bly een van die doeltreffendste aanvalswapens in rugby, juis omdat dit so moeilik is om te stuit.

Dit is wel op toetsvlak uit die spel geblaas, maar dit bly iets waarmee die puris homself kan versoen.

Tuks is tans een van die spanne wat dié beweging die beste uitvoer en dit is geen wonder nie dat hulle een van net twee onoorwonne spanne in die reeks is. Hulle het ook 'n paar goeie variasies op die tema en het die Pukke afgelope Maandag redelik goed uitoorlê daarmee.

Die rolmaal eindig gewoonlik in 'n hoop liggame wat almal oor die doellyn stort en meer dikwels as nie word dié drieë na die TV-skeidsregter verwys. Dié het natuurlik nooit 'n maklike taak nie en dit sal interessant wees om te sien of dieselfde vraag elke keer aan die TVS gevra word.

Daar is natuurlik net twee vrae - "Drie of geen drie" - en "Gee my 'n rede om nié drie toe te ken nie".

Ons het al gesien wat kan gebeur as verkeerde vraag gevra word en dit sal interessant wees om te sien hoe die skeidsregters dié een gaan hanteer. Dit is verblywend om te sien dat top TVS soos Johan Meuwesen en Shaun Veldsman gebruik word in die reeks, dalk om die minder ervare skeidsregters te help?

Ons het in een van die openingswedstryde tussen Shimlas en Ikeys 'n geval gehad waar die verkeerde uitslag weens die verkeerde vraag verkry is en namate die druk toeneem en wen of verloor relegasie of tuisveldvoordeel in die semis kan beteken, sal dit noodsaaklik word dat die TVS én sy skeidsregter dit regkry.

Die groot uitdaging lê natuurlik in daardie wedstryde wat nie op TV is nie en waar daar nie 'n TVS is nie.

Niemand sou só 'n toename in rolmale voorsien het toe daar oor die vermindering van die strafdoel se waarde gepraat is nie.

Net so was die ekstra druk op minder ervare skeidsregter as 'n dosyn spelers in 'n bondel oor die doellyn stort nie iets wat voorsien kon word nie.

Deur JJ Harmse, Rapport

Add a comment