Rugbyinstituut wys bestes aan

Die NWU-Puk Rugbyinstituut het verlede Woensdagaand by die Elgro Hotel in Potch hul uithaler stut, John-Roy Jenkinson met die Johan Claasen-trofee as Speler van die Jaar beloon.

Jenkinson (foto) het vanjaar sy buiging vir die Puk se Varsitybeker-span gemaak en het die o.20 Bokke tydens die Junior Wêreldbeker in Italië verteenwoordig.

Een van sy vertonings vanjaar wat dadelik as 'n hoogtepunt opduik was teen die Universiteit van die Vrystaat toe die NWU-Puk dié intervarsity-kragmeting 41-18 gewen het. Jenkinson was onstuitbaar.

Die Gert Smal-trofee as o.19 Speler van die Jaar het aan Lodewyk de Ager gegaan en die Gerald Bosch-trofee vir 0.21 Speler van die Jaar is aan Hennie Skorbinski toevertrou.
Skorbinski het ook die Danie Craven-trofee vir Mees Aanskoulikste Rugby ingepalm.

Die Nasionale Klubkampioenskappe se Agterspeler van die Week, Joe Seerane, is met die Piet Malan-trofee vir Agterspeler van die Jaar beloon.

Hannes Esterhuizen is as Afrigter van die Jaar aangewys en die Puk1-span het die nuutgestigde Matt Proudfoot-trofee as Span van die Jaar gewen ná hulle onoorwonne in die USSA-week was, die intervarsity teen UFS vir die sewende agtereenvolgende jaar gewen het en as die Nasionale Klubkampioen gekroon is.

Die manskoshuis, Patria, het 'n spesiale trofee gewen nadat hulle die nasionale Steinhoff-koshuisliga verower het asook as die Puk se koshuisliga vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Patria se losskakel, Wilco de Wet, is as Koshuisspeler van die Jaar aangewys.

Deur Bertie Jacobs

Add a comment