PE wind bekommer Pukke min

Die wind in Port Elizabeth mag dalk so onvoorspelbaar soos 'n skoonma se buie wees, maar die NWU-Puk se eersterugbyspan het nét die regte doepa vir dié kwaal: 'n koue skouer.

"Ons gaan nie ons spelpatroon verander omdat die wind hier woes waai nie," het Henning van der Merwe, die Puk se skopafrigter, op die vooraand van hul eerste Varsitybeker-kragmeting teen NMMU gesê.

"Ons het baie daaroor (die wind) gepraat, maar ons gaan nie ons styl daaroor verander nie. Ons moet net by die basiese goed bly en reg aanpas as daar pale toe geskop word.

"Toe ons vandag (Sondag) op die veld was het ons gesien watter groot invloed die wind kan hê wanneer die bal hoog geskop word.

"Die ouens moet net kophou en niks snaaks probeer nie."

Volgens Van der Merwe is die wind geneig om dwars oor die veld te blaas, hoewel die Puk om agter sy blaaie in die eerste helfte sal verkies.

Een man die omstandighede in die Baai so goed soos sy teenstander Maandagaand ken is dit die oud-leerder van Framesby, Tiaan Dorfling.

"Ek was so te sê my hele lewe hier en ken die omstandighede baie goed. Ek het klaar na die weersomstandighede vir Maandagaand gekyk en volgens die weervoorspelling gaan die wind net harder waai," het die kookwater skrumskakel verduidelik.

Sy skakelmaat, Gerhard Nortier, is dit ook eens dat die pyle in die Puk se koker aërodinamies genoeg vir die omstandighede binne die Xerox MNNU-stadion is.

"Ek dink ook nie dit gaan 'n té groot invloed hê nie. Ons is 'n semi-professionele span wat moet kan aanpas ongeag van die omstandighede," aldus Nortier.

Ná vier jaar as deel van die Puk-groep is dit Nortier se eerste Varsitybeker-veldtog in die beginspan.

"Ek moet doodeenvoudig die beste van hierdie geleentheid maak. Ek het baie meer werk hierdie seisoen ingesit en ook meer verantwoordelik begin neem."

Van der Merwe is dit eens dat om die Varsitybeker te wen moet 'n span 'n stelskopper hê met 'n slaagsyfer van om-en-by 90%.

"Gerhard het in ons drie opwarmingswedstryde (teen hulself, Kovsies en UJ) met 81% van sy skoppe geslaag en is vol selfvertroue. Ek voel baie positief oor ons stelskoppers."

Benewens 'n pak wat teen Kovies en UJ gewys het dat hy moeilik in trurat gedruk gaan word en so kosbare tyd vir sy skakelpaar skep, is afwisseling die ander troefkaart in die 9-10-kanaal: Dorfling skop links en Nortier regs.

"Dit is altyd 'n groot voordeel want dit gee jou net soveel meer opsies," het Van der Merwe gesê.

Opsies wat gewis Maandagaand 19:00teen die Madibaz uitgeoefen gaan word.

Deur Bertie Jacobs

Add a comment