Tuks wen eerste opwarmwedstryde

UP-Tuks het op Saterdag, 14 Januarie in die TuksRugby-stadion oorwinnings in albei hul eerste Varsitybeker-opwarmwedstryde van die seisoen behaal.

Die "eerstes" het Wits 1 met 34-9 (rustyd 16-4) in die hoofwedstryd geklop, terwyl UP-Tuks se "tweedes" heeltemal te sterk vir hul Wits-eweknieë was (60-5).

Nollis Marais, hoofafrigter van UP-Tuks, het ná die wedstryde gesê opwarmwedstryde gaan nie om hoe ver jy wen nie, maar eerder om te bepaal hoe raak jy met spankeuses was en tot watter mate die spelpatroon en wedstrydplan by elke speler inslag gevind het.

"Dit was moeilik om in die eerste wedstryd enigiets wys te word omdat ons te sterk vir hulle was," het Marais gesê.

"Steeds dink ek dat ons hantering nie altyd op peil was nie en dat ons ook nie goed genoeg afgerond het nie, al sê die eindtelling dit dalk nie. Daar was beslis spelers wat met stewige individuele vertonings aanspraak gemaak het op insluiting in die A-span wat Vrydag in Bloemfontein teen die SUT (Sentrale Universiteit van Tegnologie) speel."

In die hoofwedstryd was daar volgens Marais te min dringendheid by die afbreekpunte in veral die eerste helfte en het "ons ons te veel en te lank gesukkel om ons by die skeidsregter se vertolking en toepassing van die reëls aan te pas".

Marais het bygevoeg aan varsitycup.co.za: "'n Goeie span laat hom nie van stryk bring deur beslissings van die skeidsregter nie".

Deur Morris Gilbert

Add a comment