Die Pukke se drie Leeus
Die werkesel, die apteker en die buks van Lichtenburg. Oftewel Franco van der Merwe, Deon van Rensburg en Michael Bondesio, drie oud-Pukke wat Saterdag 29 Oktober gehelp het om die Goue Leeus tot hul eerste Curriebeker-titel sedert 1999 aan te voer.

Onder leiding van die dinamiese Kiwi-breier, John Mitchell, het die Leeus 'n sterbelaaide Haaie-span, met 15 Springbokke in hul 22-tal sowel as die Franse losskakel, Frederic Michalak, geklop en duisende Rooibont-ondersteuners eufories gehad met die 42-16 eindtelling.
Dié drietal, wat onderskeidelik op slot, vleuel en skrumskakel teen die Haaie uitgedraf het, het as o.19 melkbaarde die NWU-Puk verteenwoordig voordat hulle vanaf die eerstespan na die Luiperds en toe die Leeus aanbeweeg het.
Hoewel Van der Merwe en Van Rensburg instellings in die Leeus se beginspan was, moes Bondesio (foto, regs) tweede viool vir Jano Vermaak speel.
Laasgenoemde het egter in die middel van die seisoen 'n aanbod van die Blou Bulle aanvaar om aanstaande jaar duskant die Jukskei te gaan speel en Mitchell het Vermaak summier die trekpas gegee wat die weg vir Bondesio gebaan het.
Die res, soos daar op Sir Donald Currie se beker ingegraveer is, is geskiedenis.
"Dit is baie lekker en 'n goeie beloning vir baie harde werk.
"Ek het nooit gedink ek sou die Curriebeker lug nie. Tot so in die helfte van die kompetisie het ons nie gedink ons ou dit wen nie, maar toe ons vir die halfeindstryd (teen WP) begin voorberei het ons besef dit word nou ‘n werklikheid en 'n realiteit. Ons motivering was gróót," vertel Van Rensburg wat sy meestersgraad in aptekerswese aan die NWU-Puk voltooi het.
"Alle dank moet eerstens gaan aan die Here wat ons die gawes en talent gegee het. John (Mitchell) het die regte strukture ingebring en elke ou het presies geweet wat daar van hom verwag word."
Vir die oud-leerder van HTS Potchefstroom was die genot soveel te meer om dit saam met 'n 1.98 m-reus van Hartswater te deel.
"Ek en Franco is baie goeie vriende en ons kom al 'n lang pad saam. Dit was iets besonders om die wen saam met hom te kon vier.
"Michael was verlede jaar nog by die Luiperds en ek dink nie hy het verwag dat als so vinnig gaan gebeur nie.
"Dit is ook 'n pluimpie vir al sy harde werk."
Volgens hom het die Leeus se geluk op hul Australasiese-been van die Super 15 begin draai
"Ons het vanaf ons oorsese toer vanjaar tydens die Super Rugby-reeks nader as 'n span saam beweeg en 'n eenheid geword. Mens kon op die veld sien daar was 'n broederskap. Geen span kan wen as daar nie kameraadskap tussen die spelers is nie."
Hy was ook vol lof vir sy afrigter wat spoedig besig is om legendestatus te behaal sedert hy Johannesburg sy tuiste gemaak het.
"Met John weet jy waar jy staan. Hy is streng en op dissipline ingestel, maar ook baie waarde gedrewe. Hy het doelwitte wat hy wil bereik en as iets hom pla word dit vinnig aangespreek."
Onweerswolke het egter gedreig om oor die Leeus te hang ná hul 53-9 nederlaag teen die Haaie in Durban toe hul Springbokke na afloop van die Wêreldbeker teruggekeer het.
Voor dié kragmeting het die Leeus 10 van hul 13 Curriebeker-wedstryde gewen.
"Ons was glad nie bekommerd nie. Baie van ons seniorspelers is 'n ruskans gegee en daarom het die eindtelling nie veel beteken nie. Toe ons na die wedstryd in die kleedkamers ingaan het ons vir onsself gesê: ‘Dis verby'. Ons het dadelik net op die volgende wedstryd begin fokus."
Die 29-jarige blits, wat 24 Januarie sy derde dekade vier, is dit eens dat die Leeus hul Curriebeker-sukses in aanstaande jaar se Super Rugby-kompetisie kan emuleer.
"Jy moet geniet wat jy doen en rugby bly steeds vir my baie lekker. Dit gaan oor saam met wie jy speel en by die Leeus het ons 'n ongelooflik groep ouens.
"Ek het nog 'n kontrak van twee jaar by die Leeus wat einde 2013 verstryk, so tot dan sien ek daarna uit om nog baie saam met die Leeus te bereik.
"Ons het nog 'n punt om in Super Rugby te bewys en ons weet ons kan dit doen."
Volgens die rugbybestuurder van die NWU-Puk, Mervyn Taylor, is die universiteit hoogs in hul skik met dié drie produkte van die rugbyinstituut.
"Al drie van die ouens het hul nerwe afgewerk om te kom waar hulle vandag is en hulle verdien als wat hulle toekom.
"Dit is lekker om te sien hoe hulle vorder en ons is baie trots op hulle."
Deur Bertie Jacobs
| Add a comment |









