Puk mik gróót in 2012

Die nasionale klubkampioen sál bloed sweet in sy poging om vir die eerste keer goudware in die Varsitybeker omhoog te hou.

Dit is die nuwejaarsvoorneming van Hannes Esterhuizen en sy span net minder as 'n maand voor hul aanslag in dié spogtoernooi teen NMMU in Port Elizabeth afskop.

Vonke gaan gewis in die Baai spat met die NWU-Puk wat van meet af hul stempel in die toernooi sal wil afdruk en NMMU wat sal wil wys dat hulle alles behalwe kanonvoer is.

"As mens kyk na waar spanne op die ranglys geleë is lyk NMMU dalk na 'n makliker begin, maar ons kon nog nooit hulle oortuigend in PE wen nie. Daar bestaan ook die gevaar dat ons verby die eerste wedstryd kan kyk en dit kan ons kos.

"Daarom benader ons die wedstryd dieselfde as wat ons 'n wedstryd teen Maties, UJ, UCT of Tukkies sal benader," het Esterhuizen gesê.

Die Puk het op 16 Desember hul voorseisoense slypwerk afgesluit waarna hulle weer op 5 Januarie met alle erns begin het.

"Die manne se ingesteldheid is baie goed.

"Ons het 'n sterk groep leiers in ouens soos Joubert Engelbrecht, Siya Mdaka, Philip de Wet, Strand Kruger, Spanner Pretorius en die Jacobs-broers (Neill en Ruan).

"Daar heers 'n baie goeie gees by die groep."

Slegs twee nuwe spelers, Justin Botha en Zander de Kock, is by die groep betrek hoewel 'n kniebesering Botha vir die verloop van die toernooi langs die kantlyn sal hou.

Dit is 'n gevoelige terugslag en dun die universiteit se diepte op losskakel uit.

Esterhuizen het verlede jaar tydens die Varsitybeker by Rudy Joubert as hoofafrigter oorgeneem en het weinig kans gehad om sy voete te vind, maar vanjaar is sy stewels van meet af op terra firma.

"Toe ek verlede jaar halfpad deur die toernooi oorgeneem het was daar nie genoeg tyd om baie verandering te maak nie.

"Om te verander vat tyd. Hierdie keer kon ek al van November af vir die Varsitybeker begin voorberei en dit maak 'n groot verskil.

"Ek is baie gelukkig met waar ons tans is."

Deur Bertie Jacobs

Add a comment