Ixias opsoek na nommer drie
Die FNB Ixias gee soos 'n kampioen, wat die studentrugbyspan inderdaad is, die pas in die 2012 Varsityskild aan ná twee goeie oorwinnings in vier dae oor Wits en die Impis van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

"Dit was 'n spanpoging soos min teen die Impis en veral ons verdediging was uitstekend.
"Ons het daarna gemik om die seisoen met oorwinnings te begin en dit is presies on ons vermag het," het die hoofafrigter van die houers van die FNB Varsityskild, Theuns Hanekom, oor die Ixias se wraak-sege van 30-10 oor die Impis in Pietermaritzburg gesê.
Ondanks beserings is die Ixias oorgehaal om die span van die Universiteit van Fort Hare Maandag (13 Februarie) om 19:00 in die FNB SUT-stadion in Bloemfontein te pak.
"Ongelukkig het die senter Gerrit Smith sy dyspier beseer, maar die beseerde heelagter Charlie Hitchcock en slot Carl Wegner behoort reg te wees om te speel. Die loslootjie wat ons die week het, pas ons goed," het Hanekom verduidelik.
Vir die Ixias was die wraak teen die Impis verlede week soet, want hulle het verlede jaar albei hul wedstryde teen die KwaZulu-Natallers verloor.
"Die agterlyn het stukke beter gespeel. Maphelo Mponda wat ná die wedstryd teen Wits as Speler van die Wedstryd aangewys is, het met groot selfvertroue in die pienk broek teen die Impis gespeel," het die afrigter gesê.
Hanekom sonder die skakelpaar Inus Kritzinger en Jannie Myburgh as uitblinkers teen die Impis uit.
"Jannie was briljant. Hy het al sy skoppe deur die pale gejaag, maar ook met uitstekende lang lynskoppe sy span vorentoe laat speel," het Hanekom gesê.
'n Proefneming van die Ixias, wat geslaag het en in die toekoms nog baie vir die span kan beteken, is die feit dat Danie van der Merwe, beweeglike loskopstut van die span, as vaskopstut ingespan is en goed gevaar het.
"Hy het gewis die toets geslaag," het sy afrigter van sy spel gesê.
Teen Fort Hare behoort die Ixias die punte in te ryg en selfs bonuspunte te verwerf, maar die Vrystaters se volgende weg-wedstryd teen die Universiteit van Wes-Kaap is 'n hoë hekkie wat oorgekom moet word.
Deur Georg van Eck
| Add a comment |









