SUT agtsteman Hugo geskors
Die FNB SUT Ixias agtsteman, Juan Hugo, wat met 'n rooikaart van die veld af gestuur is in die FNB Varsityskild-rugbywedstryd teen die Impis van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg verlede week, is deur 'n Vrystaatse tugkomitee van 2 Februarie tot 13 Februarie geskors.

Hugo het 'n gevaarlike duikslag verlede Donderdag op die Impis slot Gerrit Fourie uitgevoer.
Sy afwesigheid laat 'n leemte in die Ixias se geledere omdat hul eerste keuse agtsteman, Ruan Lombaard, nog met 'n besering sukkel.
"Ons diepte word gewis getoets, maar Jonathan Ball, wat reeds vir 20 minute as plaasvervanger teen die Impis gespeel het, sal in die volgende wedstryd ingespan word. Hy is 'n aanwins van die Griffons en het sy hand goed opgesteek toe hy speelkans teen die Impis gekry het," het die voorspeler-afrigter van die Ixias, Thys Nel, gesê.
Nel het hy hoë verwagtinge van Ball wat aan die Ixias 'n bykomende lynstaan-opsie sal gee.
Die losvoorspeler het ook in die Ixias se opwarmingswedstryd teen Tukkie vroeër vanjaar gespeel en goed gevaar.
Die Ixias se volgende Varsityskild-wedstryd is Maandag teen die Universiteit Fort Hare op FNB SUT-park in Bloemfontein. Die Ixias is as die verdedigende kampioen nog onoorwonne vanjaar in die FNB Varsityskild-reeks na oorwinnings oor Wits en UKZN se Impis.
Deur Georg van Eck
| Add a comment |









