Waar is Krappie Odendaal?
Toe die destydse Puk Rugbyinstituut in 2000 begin is, is daar gou besef dat daar beslis 'n paar hardebaarde nodig is om die student die semi-professionele era in te lei.
Die keuse het op vier manne van die Vaaldriehoek van die Vereenigingrugbyklub geval: Duitser Bosman, Fanie van Wyk, Louis van Niekerk en Jaco (Krappie) Odendaal. Odendaal het die Valke in een Curriebeker- en een Vodacomwedstryd verteenwoordig.
Die kombinasie van Odendaal en Van Niekerk het uitstekend gewerk. Hulle was later legendaries vir hulle verdediging en veral Odendaal vir sy "no-nonsense" houding op die veld. Menige teenstanders sal die blou ribbes na Odendaal duikslae onthou.
Krappie het verlede jaar sy stewels opgehang maar sê as die eerste ryp geval het en hy lus voel, hy dalk weer sy gewig by Potch Dorp sal ingooi. Hy het die afgelope klompie seisoene uitstekende werk by die klub gedoen as speler en ook as afrigter.
Gedurende sy drie jaar by die Pukke het hy ook twee wedstryde vir die Luiperds gespeel.
Krappie is baie positief oor die Varsity Cup en glo dat daar dalk moet gekyk word na 'n dubbelronde om die studente se seisoen bietjie langer te maak. Hy sê, met 'n vonkel in die oog, dat die wedstryde op Maandagaande hom 'n rede gee om nie Sewende Laan saam met die gesin te kyk nie.
Hy het nie die geleentheid gehad om in die Varsity Cup te speel nie, maar dink met blydskap terug aan die klipharde wedstryde teen spanne soos Impala, Vaal Reefs, UJ en Pirates.
Soos enige goeie oud-Puk is hy teleurgesteld in die Pukke se sukkelvertonings teen Maties en Ikeys maar glo dat alles nog nie verlore is nie.
Krappie is steeds in Potchefstroom en bedryf sy eie onderneming.
Hy nooi oud-spanmaats om met hom kontak te maak op 083 294 9642.
Deur Piet de Jager
| Add a comment |









