'Ons kweek rugbyboemelaars'
Ian MacDonald, klipharde kantman van die negentigerjare van die vorige eeu, is baie uitgesproke oor die toekoms van juniorrugbyspelers. Hy het met Piet de Jager gesels in ons 'Alumni' reeks.

Hierdie oudstudent van UJ, Springbok in ses toetse wat die '95 Wêreldbeker weens 'n hakskeenseningbesering misgeloop het en 146 wedstryde vir Transvaal en later die Leeus gespeel het, het 'n probleem met juniors wat deur provinsies gekontrakteer word.
Hy sê dat die kontraktering deur die universteite gedoen moet word en dat die spelers gedwing moet word om te studeer sodat hulle kan voorberei vir die lewe na rugby. (Dit was ook die woorde van André Markgraaff met die tot standkoming van die NWU-Puk Rugbyinstituut.)
"Spelers wat nie universiteitsmateriaal is nie, moet ander opleiding ontvang as byvoorbeeld vakmanne," sê Ian aan varsitycup.co.za.
Ian verwys na die Amerikaanse stelsel waar sportdeelname onderworpe is aan akademiese prestasie.
Hy sê die spelers wat dit nie maak nie, word "rugbyboemelaars" wat rondspartel op soek na 'n heenkome. Hy haal statistiek aan wat aandui dat net 3% van die spelers wat Cravenweekrugby speel dit maak tot op senior nasionale vlak. "Wat word van die ander 97%?" vra hy.
MacDonald getuig dat die vakuum na uittrede, selfs vir 'n Springbok, skrikwekkend groot is. "Dit kos fyn beplanning om die 'lewe na rugby' onder die knie te kry."
Ian is baie positief oor die Varsity Cup en sê, soos baie ander, dat diè kompetisie die "tweede vlak van deelname" moet word na Super Rugby. Dit beteken dat die Vodacomreeks maar uitgeskakel kan word.
Ian is deesdae betrokke by 'n onderneming wat handeldryf in vleklose staal en dan praat hy met groot passie oor die beesboerdery in Springfontein in die Suid-Vrystaat waar daar met die Hugenoot-bees, die nommer een voerkraalbees, geboer word.
Ian is nog in 'n raadgewende hoedanigheid betrokke by UJ se rugby en is 'n groot ondersteuner van sy Alma Mater.
Hy nooi oudspanmaats om meer betrokke te raak en die UJ-span, wat uitstekend vaar in die kompetise, behoorlik te kom ondersteun.
Deur Piet de Jager
| Add a comment |









