Tat Botha: 'n Ware rugbyman

Daar is seker nie baie afrigters wat, sommer so uit die vuis uit, 'n Springbokspan kan saamstel uit die spelers oor wie hy die sweep geklap het as junior afrigter nie. So 'n afgrigter is Oom Tat Botha.

Oom Tat het self agsteman vir die Shimlas gespeel gedurende sy studiejare (1964-1969). Hy het toe elf jaar alnk onderwys by die HTS in Bloemfontein gegee voor hy in 1980 na sy Alma Mater teruggekeer het as Sportbeampte vir rugby en as afrigter by die juniors.

Die Springbokspan wat sy hande gegaan het is André Joubert as heelagter, Jaco Reinach en Chris Badenhorst as vleuels, die Muller-broers, Helgaardt en Pieter en Brendon Venter as senters, Jannie de Beer of Henry Honiball as losskakel en Werner Swanepoel as skrumskakel.

Die voorry kan so lyk: Os du Randt en Ollie le Roux met Charl Marais of Naka Drotske as haker. "Ons het bietjie van 'n droogte op slot gehad," verduidelik Oom Tat aan varsitycup.co.za, "maar Braam Els (Springbok) en Ryno Opperman is my slotpaar. Ek dink Opperman sou geen Springbokspan in die steek gelaat het nie. Daar is 'n oorvloed aan losvoorspelers, maar ek kies die drie: André Venter, Ruben Kruger en Rassie Erasmus."

Wat 'n bul span is dit nie!

Oom Tat sê die Varsitybeker is 'n briljante idee. Hy stel voor dat daar na die Vodacomreeks gekyk word, veral vir unies wat spanne in die Varsitybeker het.

"Dit sal voorkom dat spelers Saterdae en Maandae moet speel. Ons moet op die Varsitybeker konsentreer," sê hy.

Oom Tat sê ook dat "geld rugby mal gemaak het". "Daar is nie meer iets soos lojaliteit nie.

"Spelers word soos handelware hanteer en die manne met die geld koop alles, maar jy kan nie lojaliteit koop nie. Kyk maar hoe sukkel die Leeus met hulle duur span."

Deur Piet de Jager

Add a comment