Oud-Shimla weet nog waar sy Bloem wortels lê
'Die feit dat Boom terugkom om vir ons 'n trui vir die Shimla-kamer te gee spreek net weereens van sy nederigheid. Hy kom terug na waar sy wortels lê.'

Dit is wat mnr. Marius van Rensburg, voorsitter van die Shimla-rugbyklub, te sê gehad het oor die Sprigbok Sewesspeler, Boom Prinsloo, nadat hy hierdie week 'n Sprigboktrui vir die Shimla-klubhuis geskenk het.
"Daar is hope spelers wat groot name word en eenvoudig vergeet waar hulle vandaan kom," sê mnr. Dougie Heymans, bestuurder van Kovsierugby.
Prinsloo, wie in matriek vir die eerstemaal 'n eerstespan trui by Grey College oor sy kop getrek het, weet goed waar hy vandaan kom.
"Ek het in graad 8 nog vir Grey se O/14 E-span gespeel," sê Prinsloo aan varsitycup.co.za.
"In daardie tyd het ek nog meer tennis gespeel. My afrigters was op die punt om my Amerika toe te stuur, maar toe besluit ek om eerder rugby te speel," sê Prinsloo in 'n inspirerende stemtoon. Asof hy vir mense wil vertel dat hulle onder sal begin en bo uitkom!
"Dit het harde werk gekos en genade van Bo vir alles om uiteindelik so goed vir my uit te werk."
Harde werk en genade het gelei daartoe dat hy in matriek ook vir die Vrystaatse Cravenweek span gekies is. Na skool het dinge gelyk of dit net eenvoudig in plek begin val vir hierdie Bloemfonteinse seun. By elk van die spanne vir wie hy sedertdien die veld gevat het (Kovsies se O/19s en O/21s tot by die Shimlas en Vrystaatse juniorspanne) is Prinsloo al benoem as Speler van die Jaar.
Hy het dus sy grootste opslae gemaak in die 2010 Varsitybeker-kompetisie, waartydens hierdie Shimla as die Speler van die Toernooi benoem is. Kort hierna begin hy ook vir die Springbok Sewesspan speel wat daardie jaar brons gekry het by die Statebondspele.
Vanjaar was Prinsloo ook deel van die Sewesspan wie tweede geëindig het in die wêreldreeks. Met sy terugkoms in Bloemfontein soek 'n uitgeputte Prinsloo egter so bietjie ontspanning.
"Ons het gewen in London teen Fiji. Ons was op, maar moes onsself dadelik weer optel vir die toernooi in Edinburgh. Die feit dat ons altyd hard werk in Stellenbosch, waar ons basis is, help ongelooflik in wedstryde se fiksheid, veral met toernooie wat skielik op mekaar plaasvind."
Hoewel hy nou eers sy rus najaag, is die gevoel om deel te wees van 'n wêreldkampioenspan steeds 'n opkukker.
"Dit is 'n ongelooflike voorreg. Ons voel al soos 'n klein familie en dis verseker ook hoekom ons sukses behaal."
Na 'n sege van 20-19 oor Fiji is Prinsloo baie tevrede, aangesien hy meen dat hulle die moeilikste span is om op 'n Sewesveld te klop.
"Fiji is beslis taai! Jy weet nooit wat hulle op die veld bring nie. Hulle arms is omtrent so lank soos jou bene en dit is hulle nommer een nasionale sport."
Prinsloo verlang die lekker 15-man studenterugby waarmee hy gedurende die Varsitybeker te doen gekry het. Maar hy meen dat dit nie naby die uitdaging van Sewes kom nie.
"Dit is heeltemal 'n ander game. Varsitybeker is nog studenterugby. Met Sewes kry jy te doen met internasionale atlete. Jy speel heeltemal op 'n ander vlak."
Rugby is verseker sy eerste liefde. Tog sou hy graag, as dit nie vir sy besige skedule was nie, meer aandag aan studies wou gee.
"Ek wil nog terugkom Kovsies toe vir my bourekeningkunde honneurs, iets waarby ek seker nie vanjaar sal uitkom nie," sê Boom.
"Ek het eintlik nog 'n jaartaak van verlede jaar om af te handel voor ek kan graad vang. Maar die rugby hou my werklik net te besig."
Die rugby hou hom nou besig, maar sy vooruitsigtinge strek verder as Sprinboktruie en wêreldtitels.
"Ek sal daarvan hou om eendag nog regte ook te studeer. Ek het die laaste tyd 'n redelike belangstelling daarvoor ontwikkel. Dan kan ek bietjie werk met die wettiese aspek van die boubedryf, siende dat ek reeds dan die bourek agtergrond het.
Vir nou sal Prinsloo egter eers wil begin terugkeer na 15-man rugby om Curriebeker en uiteindelik Superrugby te speel. Maar daar is nog onsekerheid oor dit versus die spel van Sewes.
"Ek dink dat ek nog so seisoen of wat het met die Sewes. Maar daar is nog baie vir my om oor te dink," sê hy.
Deur Stefan Lotter
| Add a comment |









