Dagbreek steeds bo

Na afloop van die sewende rondte van die Steinhoff Matie Koshuisliga, is Steinhoff Dagbreek steeds stewig in beheer van die liga nadat die Blou Trein Vrydag vir Steinhoff PSO Barbarians met 22-0 verslaan het.

Steinhoff Helshoogte het onverwags met 10-11 teen Steinhoff Helderberg vasgeval en het sodoende sy tweede posisie op die puntelys aan Helderberg afgestaan.

Steinhoff Elsenburg het self nie op hulle laat wag nie, en het vir Steinhoff Medies, een van die sterk mededingers op die punteleer in Tygerberg tot 'n gelykop uitslag van 20-elk beperk.

In die ander wedstryde verras Steinhoff Eendrag deur vir Steinhoff Simonsberg met 6-3 te klop. Na die vorige seisoen se puik prestasies lyk Simonsberg op die oomblik baie platvoet en tam.

Steinhof Willgenhof wen 10-7 teen Steinhoff Huis Marais. Huis Marais verloor uiteindelik al die punte vir die wedstryd aangesien hulle 'n speler op die klub se nie-beskikbare lys gespeel het. Ten slotte klop Steinhoff Majuba vir Steinhoff Huis Visser met 18-11.

Na Vrydag se wedstryde lyk dit asof Dagbreek (31), Helderberg (26), Helshoogte (25) en Medies (24) besig is om die gaping met die ander spanne oop te maak en op hierdie stadium die gunstelinge is om die semi-finale te haal.

Komende Vrydag is daar geen Eersteliga wedstryde nie.

Die Eersteliga hervat op Vrydag, 12 Augustus met die volgende wedstryde: Dagbreek teen Huis Marais (D-veld), Helderberg t Simonsberg (E-veld), Helshoogte t Medies (F-veld), PSO-Barbaroians t Majuba (G-veld), Wilgenhof t Elsenburg (H-veld) en Eendrag t Huis Visser (I-veld). (Al die wedstryde skop 17:00 af.)

Kliek hier vir die nuutste punteleer!

Add a comment