Dagbreek koning op Maties
Steinhoff Dagbreek is as die wenners van die Steinhoff Interkoshuis-toernooi gekroon nadat hulle Steinhoff Helderberg met 20-8 getroef het in Vrydagaand se finaal.

Dit was 'n wedstryd waarin Dagbreek al die antwoorde gehad het vir die vrae wat Helderberg aan hulle gestel het en hulle het sodoende hulle 13de oorwinning in 'n ry behaal en hulle seisoen onoorwonne afgesluit.
Dagbreek het reeds in die eerste 20 minute die grondslag vir die oorwinning gelê na twee puik drieë deur die heelagter, Loutjie Uys. Hy het belowende agterlynbewegings van die Bloutrein gaan afrond en sy korrelwerk pale toe na sy drieë was ook sekuur.
Die losskalel van Helderberg, Edgar Fourie, het net voor rustyd hulle rekening geopen met 'n strafskop en die telling met lemoentyd was 14-3 in Dagbreek se guns.
In die tweede helfte het Helderberg probeer om die agterstand uit te wis, maar dit was tevergeefs. Dagbreek se voorspelers het beheer in die vaste fasette verkry en na dese was die skrif aan die muur vir Helderberg. Hulle linkervleuel, Muller Michael, het wel vir hulle 'n troosdrie gaan druk, maar dit was te laat.
Uys het nog twee strafskoppe vir Dagbreek behaal en dit het dit moeilik gemaak vir Helderberg om die agterstand uit te wis. Die een slot van Dagbreek, Jaco Jacobs, en die toekantflank, Jacques Taljaard, was enorm in die vastelos en dit het die buitsenter en man van die wedstryd, Koos Loubser, regtervleuel, Vernon Jordaan en Uys in staat gestel om geleenthede vir punte te skep.
Die Bloutrein kry met hierdie oorwinning die kans om Maties te verteenwoordig in die Varsitybeker vir koshuise in 2012.
Dagbreek het in 2008, toe hierdie toernooi vir die eerste keer aangebied is, weggestap met die titel na 'n oorwinning van 22-14 oor Maroela van Tukkies op George.
Hulle sal graag hul prestasie met 'n oorwinning wil nadoen.
Die puntemakers:
Vir Steinhoff Dagbreek:
Drieë: Loutjie Uys 2
Doekskoppe: Uys 2
Strafdoelle: Uys 2
Vir Steinhoff Helderberg:
Drieë: Michael Muller
Strafdoelle: Edgar Fourie
Deur Piet Lategan
For all the other Koshuis Final results from Stellenbosch, CLICK HERE!
| Add a comment |









