Puik Patria die konings
Patria het Maandagaand in Pretoria die LC de Villiers-stadion blou geverf deur Simonsberg 21-0 te vernederen as die Steinhoff Koshuis-kompioene gekroon te word.

Albei spanne was voor die eindstryd onoorwonne, dus, dat Maties se Simonsberg nie 'n punt kon aanteken nie is merkwaardig.
Losskakel en kaptein, Wilco de Wet, het met twee strafdoele vir die eerste punte van die wedstryd gesorg voor Janco van Zyl gaan druk het.
Slot Lodewyk Uys, wat 'n gewoonte daarvan maak om sy naam op die telbord te kry, het na die omdraaislag sy tweede drie in net soveel wedstryde gedruk en Patria het seker gemaak hul doellyn bly Simonsberg-bestand.
"Die eerste 15-minute het gevoel of dit maar twee-minute geduur het, tog het ons deurentyd gevoel ons is in beheer," het Jean Olivier, Patria se primarius, gesê aan varsitycup.co.za.
"Gewoonlik doen net die eerstejaars ons ‘haka' voor die wedstryd, maar toe ons sien die seniors doen dit Maandagaand ook het ons almal sommer hoendervleis gekry.
"Ons was in elke posisie die beste op die veld en, as hull ons hard geduik het, het ons seker gemaak ons duik hulle drie keer harder terug.
"Die ouens op die veld het gespeel vir die man langs hom. Jy moet mekaar in die oë kan kyk na die tyd."
Volgens hom het Maandagaand se skittersege nog nie heeltemal by hom of sy medespelers ingesink nie.
"Gister (Dinsdag) toe ons die heruitsending kyk en hoor die kommentator sê dat ons die Suid-Afrikaanse kampioene is, het ons begin besef ons het iets groots bereik.
"Ons is baie gelukkig en ook trots. Tydens ons koshuisvergadering kon ons die gees in die koshuis voel.
"Almal hier het saamgetrek vir ons."
Dit is die eerste keer dat 'n manskoshuis van die NWU-Puk dié toernooi kon wen.
"Ons het nie net vir Patria gespeel nie, maar ook vir die Puk. Ek dink by die koshuis is broederskap nou nog net meer gevestig en die fondasie vir die toekoms is gelê."
Corlohan Botha, Patria se HK: Sport, het Maandagaand se oorwinning as onvergeetlik beskryf.
"Dit was 'n ongelooflike aand en 'n groot voorreg om deel daarvan te kon gewees het.
"Na afloop van die wedstryd het die spelers gesê hulle sou dit nie sonder die koshuis se ondersteuning kon gedoen het nie.
"Dit is wonderlik dat die spelers die ondersteuners langs die veld raaksien en vir hulle speel. Dit motiveer hulle om hul als te gee."
Bul du Toit, hoofafrigter, was hoogs in sy skik met Patria se sege.
"Dit was fantasties en die kersie op die koek vir al die harde werk wat ons sedert November ingesit het."
Du Toit het sy span se skitterseisoen toegeskryf aan die spelers se fiksheid en toewyding. Dit is dus ook geen verrassing dat 'n handvol van sy troepe opgetrek is deur die NWU Puk-rugbyinstituut nie.
"Ek moet ook Burgher van der Westhuizen uitsonder. Hy is 'n ongelooflike agterlynafrigter en sal van baie waarde wees vir enige span," het Du Toit gesê.
Vir Patria het manne soos Lodewyk Uys, Wilco de Wet en Jean Deysel het uit hul velle gespeel, maar als in aggenome was dit was 'n spanpoging soos min.
Deur Bertie Jacobs
| Add a comment |









