Patria trots op Bok

Hy was dalk een van die ongelukkiges om nie die Springbokke se Wêreldbeker-groep te haal nie, maar oor sy 2011 seisoen hoef Gerhard Mostert geen verwyte te hê nie.

Dié oud-Puk is vroeer vanjaar vanaf Stade Français nader geroep om vir die beseerde Johann Muller en Flip van der Merwe in te staan tydens die Springbokke se Drienasie-kragmeting met Nieu-Seeland in Wellington.

Mostert het 'n stewige vertoning op slot gelewer en daar is gemeen dat hy 'n goeie kans het om die Springbokke wéér Nieu-Seeland toe te vergesel, dié keer om hulle te help om die Wêreldbeker te verdedig.

Mostert se naam was egter een van die wat nie Dinsdagaand tydens die bekendstelling van die Springbokke se groep genoem is nie.

Muller en Danie Rossouw sal Bakkies Botha en Victor Matfield se adjudante tydens die skouspel wees.

Mostert is die derde Bok wat die NWU-Puk-rugbyinstituut opgelewer het en die manskoshuis, Patria, se eerste.

Die huidige visie-president van die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) asook die NWU-Puk se Direkteur: Sport, James Stoffberg, was Mostert se afrigter op o.20-vlak en is ook tans Patria se koshuisvader. 

Stoffberg was in Wellington vir die Springbokke se toets en het Mostert se 'capping' behartig.

Patria het vanjaar die nasionale Steinhoff Koshuisliga gewen en Mostert se Bok-buiging is die kersie op die koek van 'n spogjaar vir dié koshuis.

By Bertie Jacobs

Add a comment