Patria is Puk se Uber-span

Eers die nasionale Steinhoff Koshuisliga-kampioen en nou, weereens, die NWU-Puk se koshuiskampioen.

Gee vanjaar vir Patria 'n beker om te wen en 'n week of wat later dan drink hulle sjampanje uit hom.

Vrydagaand was dit sulke tyd toe die Blou Masjien 33-0 vir Villagers in die eindstryd van die Steinhoff Koshuisrugby-liga uitgestof het om sodoende hul nasionale titel volgende jaar teen die land se bestes te verdedig.

Patria het slegs een helfte nodig gehad waar hulle behoorlik hul teenstanders gestormloop het om met die omdraaislag 26-0 voor te loop.

Ja, dit gaan klinkstiebeuel met dié span.

"Die spelers het deur die seisoen hope toewyding en dissipline gewys.

"Die ouens het hul harte daarop gesit om volgende jaar weer die nasionale koshuisliga te wen en nou kry hulle die geleentheid om dit te doen," het Bill du Toit, Patria se hoofafrigter, gesê.

"As ek reg onthou was hierdie ons 18de wen op 'n streep. Wat lekker was, was die min drieë wat ons afgestaan het."

Volgens Du Toit het Patria eers hul beste spelpeil die afgelope "drie tot vier" wedstryde bereik, en toe het sake klopdisselboom verloop.

Patria se agterlynafrigter tydens die nasionale koshuisliga, Burger van der Westhuizen, het hom voor die afskop van die Curriebeker by die Luiperds aangesluit en Sarel Naudé het die leisels by hom oorgeneem.

"Ons het geensins 'n verskil of 'n oorgangsfase gevoel nie.

"Ek, Sarel en Burger rig al lank saam af. Ons dink dieselfde oor rugby," het Du Toit gesê.

Bestendigheid was ook 'n hoeksteen van Patria se welslae.

"Ons was baie gelukkig met beserings en hoef selde aan die span te verander het. Ek dink dit het ook baie bygedra tot ons sukses."

Vraag is nou, ná 'n als oorheersende 2011, hoe gaan Patria aanstaande jaar daarop verbeter?

"Ons doelwit is om nóg 'n rat hoër te skuif.

"Ons wil meer punte aanteken en minder afstaan.

"En, ons wil geen wedstryd verloor nie," het Du Toit sy span se toekomsplan verduidelik.

Anders gestel: Patria wil hul wurggreep op Suid-Afrikaanse koshuisrugby versterk, dít is wat hulle wil doen.

Deur Bertie Jacobs

Add a comment