Vishuis weereens in finaal

Huis Abram Fischer (Vishuis) is na hierdie naweek verseker van 'n plek in die eindstryd van die Steinhoff Koshuisruby-liga (K1-liga) by die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Vishuis, wat verlede jaar die K1 wenners by Kovsies was, het Vrydagaand op Shimlapark gedraf met een doel voor oë: Om die span van JBM te vermorsel. Die eindtelling van hierdie kragmeting was 22-3 in die guns van Vishuis.

Hoewel JBM die laaste twee weke gewys het dat hy floreer in die tweede helfte, kon hy nie vanaf die 15-3 rustyd-telling 'n staanplek in die wedstryd kry nie. Vishuis was eenvoudig van die begin af op die aanval en het rustyd reeds met twee drieë, 'n doelskop en 'n skepskop voorgeloop teenoor JBM wat slegs 'n strafdoel kon inpalm. 

'Die huis van meesters' het dus geen punte in die tweede helfte aangeteken nie, maar Vishuis het wel nog 'n keer die doellyn opgesoek en ook hierdie drie verdoel.

JBM het 'n baie los spel gespeel en dit het voorgekom asof Vishuis hulle planne kon voorspel. Dit het met ente gelyk asof JBM die bal vir Vishuis gee.

Die span van Vishuis het self nie die jaar op so 'n goeie voet begin nie. Tydens die 2011 Steinhoff Koshuistoernooi, wat saam met die Varsitybeker vanaf Februarie tot Maart gehardloop het, het Vishuis nie een van sy wedstryde teen die koshuisspanne van ander universiteite gewen nie.

Dus, het Abram Fischer die koshuisliga by Kovsies betree met iets om te bewys. Hiervoor was hul goed gefokus aan die begin van die seisoen, maar het later ook loesings gekry vanaf spanne soos Heimat en die eindste JBM. Tog, is Vishuis nou weer terug in top vorm en gereed vir die eindstryd.

Vrydagaand het die spanne van Kovsies se K3-liga ook op Shimlapark dinge in die half-eindwedstyde uitgestoei. Die derdespan van Armentum het vir sy eweknie van Karee ore aangesit en 29-14 gewen. 

Die derdespan van JBM, wat nog nie een wedstryd vanjaar verloor het nie, het wel sy koshuis se naam hoog gehou en 'n naelbyt oorwinning oor Armentum se vierdes behaal.

Deur Stefan Lotter

Add a comment