Nog een vir Abram Fischer
Huis Abram Fischer (Vishuis) sal volgende jaar 'n derdemaal in Steinhoff se Koshuiskompetisie gedurende die FNB Varsitybeker speel.

Vishuis het Vrydagaand op Shimlapark oor die fisieke span van Heimat 25-15 getroef in die eindstryd van die eersteliga koshuisrugby (K1) by die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Van die afskop af was dit egter duidelik dat daar 'n taai stryd voor gelê het. Vishuis, wat ook die meeste ondersteuning op die aand geniet het, het die eerste punte op die telbord gesit nadat hy vroeg in die wedstryd 'n strafdoel deur die pale gejaag het. Heimat het kort hierna 'n terugaanval geloots met 'n drie.
Teen rustyd was die spanne weer gelyk met 'n telling van 15-elk. Heimat het in die eerste helfte hulle punte opgebou met twee drieë, waarvan een verdoel is, asook 'n enkele strafdoel.
Vishuis het aan die anderkant vier strafdoele suksesvol benader en nog 'n skepdoel vanaf buite hul opponent se 22m lyn in gereig.
In die tweede helfte het goeie afrigting en slim spel die verskil begin maak dat die manne van Vishuis die oorhand begin kry het. Mnr. George van Eck, sportskrywer vir Krant, meen dat "Heimat speel hard en emosioneel op die veld, maar Vishuis speel strategiese goeie rugby".
Vishuis se haker, Hartman Ries, het tien minute voor die eindfluitjie geblaas is sy span se enigste drie vir die wedstryd gaan druk. Hierdie was egter die spyker in Heimat se kus en die afkampus-koshuis het in die tweede helfte geen enkele punt kry nie. Ries was die hele aand honger vir die doellyn en nadat hy dit oorgesteek het was die skrif dus aan die muur dat hy die man van die wedstryd was.
Na afloop van die wedstryd het Ajee Valentine, Handelsmerkbestuurder van Steinhoff International, die prysuitdelings hanteer.
"Dit is wonderlik om te sien waar Vishuis se rugby drie jaar gelede was en dit te kan vergelyk met waar dit nou is," het Valentine gesê.
"Daar is met die Steinhoff kompetisie net meer om voor te speel en groter geleenthede om na toe te werk. Dit, wat hier gebeur, kan jou definieer vir die res van jou lewe."
Met die oorhandiging van die troffee het Vishuis se kaptein, Johan Brune, sy koshuis bedank vir hul ondersteuning deur die jaar en ook vir Steinhoff vir die geleenthede wat hul vir koshuisrugby geskep het.
Valentine se respons hierop was eenvoudig dat "ons dit altyd geniet om die rooi hoedjies langs die veld te sien".
Deur Stefan Lotter
| Add a comment |









