Steinhoff Sonop wen uitklopliga

Steinhoff Sonop is Woensdag gekroon as die nuwe koshuiskampioen in die Tuks se 2011 Steinhoff-uitklopliga.

Steinhoff Sonop het Steinhoff Olympus in 'n skitterende finaal met 24-22 geklop. Die nuwe kampioen was rustyd met 12-15 agter.

In die tweede helfte het Olympus, die mediese studente se daghuis, sy voorsprong na 22-12 vergroot voordat Sonop behoorlik wakker geskrik en die eerste keer na sy potensiaal begin speel het.

Sonop het spel toe behendig begin rek en Olympus van die een na die ander kant van die veld laat rondhardloop.

Die wenspan se twee groot uitblinkers was Selwyn Schutze en Scheepers Lubbe.

In die ander kampioenskapseindstryd het Steinhoff Maroela se o.20-span met die louere weggestap nadat hy sy eweknie van Steinhoff Boekenhout met 14-6 getroef het.

In die twee plaat-eindstryde was Steinhoff Vividus se eerstes en Steinhoff Zeus se o.20's aan die wenkant. Hulle het met onderskeidelik Steinhoff Taaibos en Steinhoff Olienhout klaargespeel.

Deur Morris Gilbert

Add a comment