Krynauw kry nou ysters

'n Veteraan van 38 Toetse, die eerste Springbok van die Tshwane Universteit vir Tegnologie toe die instelling nog die Pretoria Technikon was, is deesdae 'n groot naam in die herwinning van metaal, plastiek en glas.

Die man is Krynauw Otto, wat ook deel was van die Springbokgroep wat sewentien agtereenvolgende toetse gewen het in 1997/98. Dit is vir hom een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

Dit en natuurlik die Wêreldbeker van 1995. Alhoewel die Bokke nie kon wen in 1999 nie, was die toernooi ook vir hom baie spesiaal.

Otto se loopbaan is in 2000 kortgeknip na hy 'n hematoom op die voorste breinlob aan die linkerkant opgedoen het in 'n Nelson Mandela Skild wedstryd in Melbourne.

Hy het geen nagevolge van die besering oorgehou nie.

Hy en slotmaat Mark Andrews het die rekord vir die meeste toetse as slotpaar gehou (25) voor dit onlangs deur Bakkies Botha en Victor Matfield verbeter is.

Na sy uitrede het hy by Tukkies en die Valke afgerig.

Krynauw is baie positief oor die Varsity Cup. Dit gee broodnodige blootstelling aan jong spelers en trek die aandag bietjie  van die oormatige konsentrasie op Super Rugby.

"Dit help nie ons speel net Super Rugby en klubs en universiteite se rugby gaan tot niet nie," sê Otto.

Hy is werklik bekommerd oor die stand van klubrugby. "In ander lande word nuwe klubs gestig maar hier in Suid Afrika sterf die klubs een na die ander, veral op die platteland."

Hy erken dat hy nie so betrokke by sy ou klub is soos wat hy moet wees nie maar beplan om dit spoedig reg te stel.

Krynauw is een van daardie stil spelers wat elke toets net sy beste gegee het, nooit in die kalklig was nie en met trots kan terugkyk na 'n uitstekende loopbaan in die Groen en Goud.

Hy nooi spanmaats van die Technikon dae om hom te kontak by 082 993 0000.

Deur Piet de Jager

Add a comment