top of page

Patria word legendes gemaak

Lank mag die vorstehuis van Patria staan. Dié manskoshuis van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus kan nou met reg die onbetwiste koshuiskrag in Noordwes genoem word na Henry Stewart se troepe onlangs hul tweede agtereenvolgende Steinhoff Koshuisliga-titel ingepalm het.


Patria het De Wilgers 19-12 op die Fanie du Toit-sportterrein geklop en sodoende welverdiend sjampanje geproe ná hulle vroeër vanjaar in die eindstryd van die nasionale koshuisliga teen Heimat van Kovsies verloor het.


Drie eindstryde in een jaar en twee trofeë. Dis mos nou iets.


Waar De Wilgers in die verlede met ’n verwoede aanslag in die eerste 20-minute gekom het, het Patria die bordjies in die eindstryd verhang en die tempo net duskant windhond gehou.


“Ons was halftyd net 5-0 voor, maar ek kon nie vir die ouens sê om anders te speel nie. Alles wat hulle gedoen het, was reg, ek het geweet die punte sal kom,” vertel Stewart, Patria se breier.


As daar vir ’n keerpunt in die wedstryd gestem moet word, sal ses-flank Berto Kleynhans se heldedade net voor halftyd loshande wen.


Met De Wilgers begeesterend op die aanval, en op Patria se doellyn, het Kleynhans die bal uit ’n teenstander se greep gepluk net toe dié wou druk.


De Wilgers kon skaars vrae: “Hoe de...” halftydfluitjie blaas.


Dit het die loop van die wedstryd verander en van hier af het die Blou masjien nie weer terug gekyk nie.


Vir Stewart en sy span was die seisoen wel alles behalwe maanskyn en rose. ’n Paar van sy meer seniormanne het nie die mas opgekom nie en hy moes noodgedwonge sy span ’n jongbloedinspuiting gee.


Op ’n stadium het Patria vyfde op die algehele punterleer gelê; ’n situasie wat selfs Lasarus sou laat moed opgee het.


Bonuspunte, en nie ’n bietjie nie, was nodig om die uitspeelrondes te haal. Wat doen Patria toe? Wel, hulle gaan staan en maak 12-ligapunte in net twee wedstryde bymekaar deur vir Caput en Heimat af te slag.


In ’n klipharde halfeindstryd was dit rateltaai Villagers wat die loef afgesteek het en toe, die laaste hekkie.


Hoe sou die rekordboeke hierdie span van Stewart onthou?


“Ek het vir ’n vir die jong ouens in die span gesê jou word ’n held as jy die Koshuisliga wen en ek het vir die ou manne (waarvan vyf die koshuis vanjaar verlaat) gesê jou word ’n legende as jy hom twee keer na mekaar wen,” vertel Stewart.


Legendes en helde, dít is hoe hierdie Patria-span onthou sal word.


Deur Bertie Jacobs

2 views0 comments

News

The latest updates

LATEST VIDEOS

Varsity Shield Final HIGHLIGHTS: FNB Tuks vs FNB Varsity College - 26 April

02 May 2024

Womens final HIGHLIGHTS: FNB Maties vs FNB UFH - 26 April

02 May 2024

Final HIGHLIGHTS: FNB UFS vs FNB UCT

24 Apr 2024

bottom of page